LL-L "Language varieties" 2010.03.20 (03) [AF]

Lowlands-L List lowlands.list at GMAIL.COM
Sat Mar 20 18:05:58 UTC 2010


===============================================
*L O W L A N D S - L - 20 March 2010 - Volume 01*
lowlands.list at gmail.com - http://lowlands-l.net/
Posting: lowlands-l at listserv.linguistlist.org
Archive: http://listserv.linguistlist.org/archives/lowlands-l.html
Encoding: Unicode (UTF-08)
Language Codes: lowlands-l.net/codes.php
===============================================


From: dealangeam <atdelange at iburst.co.za>

Subject: LL-L "Language varieties" [A]

Beste Ron en alle Laaglanders,



Ek skryf hierdie bydrae in Afrikaans, alhoewel ek ewe goed dit in Engels kon
geskryf het. Afrikaanse bydraes deur myself, Mark Dreyer, Elsie Zinsser en
ander lok uiters selde reaksie van Laaglanders wat ander Laaglandse “
dialekte” as moedertaal het. Ek dink dit is omdat Afrikaans as Laaglandse
taal so minderwaardig geag word dat dit geïgnoreer kan word.



Eintlik skryf ek oor die verstommende opmerkings wat John Tait die laaste
tyd oor Shetlandies, verskoon, die “dialek” gemaak het. Dit herinner my
geweldig baie aan die geskiedenis van Afrikaans. Ek dink dat dit binne 10
jaar na 1652 ontluik het uit Hollands en Nederduits as die ouers met tale
soos Xhoi, Maleisies, Duits en Frans as die vroedvroue. Maar vir meer as 200
jaar moes dit klaarkom sonder ‘n geskrewe vorm.



Eers is Hollands (later Nederlands genoem) as geskrewe vorm gebruik. Na 1800
het Engels ook as geskrewe vorm opgeduik. Afrikaans as ‘n taal in eie reg is
so geminag en geïgnoreer dat dit selfs nie eers die naam Afrikaans gekry het
nie. Maar na min of meer 1830 het Afrikaners (toe nog nie as sulks genoem
nie), begin kyk na die binneland as nuwe tuiste vry van Hollands en veral
Engels. Daar was baie redes, maar een van hulle was die afdwing van Hollandsen
Engels as amptelike tale.



Teen 1850, na die Groot Trek, het die houding oor Afrikaans by die agter
geblewenes begin verander. Sommige mense met ‘n liefde vir die “taal” hetbegin
om dit te probeer skryf met ‘n eiesoortige spelling en reëls. Die eerste
Taalbeweging was op pad. Maar die minagting van Afrikaans het voort geduurtot
na die Tweede Vryheidsoorlog tussen die Boere en Engelse.



Toe, met soveel genialiteit dat dit haas ‘n wonderwerk was, het een stukkie
skryfwerk, die algemene houding oor Afrikaans omgekeer. Dit was Eugene
Marais se gediggie Winternag. So snel en wyd was die omkeer dat Afrikaans in
1926 as een van die amptelike landstale erken is.



Die res is meer bekende geskiedenis. Die Afrikanders saam met ander wittesvan
Europese herkoms het ‘n politieke meerderheid behaal. Die swart Afrikane het
geen stemreg gehad nie. Apartheid het beleid geword om swart oorheersing te
verhoed. Ongelukkig het geen van hierdie politici die insig gehad dat die
meer as tien inheemse tale van swartes net so die onderspit gedelf het as
Afrikaans. Engels het die lingua franca van die meerderheid swart mense
geword ten koste van hulle eie moedertale. In 1992 is apartheid as beleid
geskrap en in 1994 het die swart mense as die meerderheid aan bewind
gevormin die
Nuwe Suid Afrika.



Engels het in praktyk die staatsdiens, besigheid, industrie, onderwys,
kunste, maatskaplike dienste en sport begin oorheers. Afrikaans en die swart
tale het enorme skade begin lei, al het die nuwe grondwet dit probeer
verhoed. Dit is eers ‘n paar dae gelede, Maart 2010, dat ‘n hoog geregshof
bevind het dat regering niks gedoen het om hierdie verval te keer nie. Hulleis
twee jaar tyd gegun om die saak reg te stel, anders sal hulle aangekla word
van minagting van die hof. Dit is voorwaar tans dramatiese tye.



Maar terug na Shetland. Hoeveel van die minagting van die “dialek” het nie
te doen met die eeue lank geskiedenis waarby Skotland en Engeland betrokkeis
nie? Hier in ons wêreld kan ek nie my eers my oë op Shetland se geskiedenisrig
nie. Miskien moet John Tait sy mening vir ons probeer gee. Ek is nie haastig
nie want ek soek na ‘n wel deurdagte mening.



Wat kan Shetlanders doen om die saak reg te stel? Bid dat iemand ‘n
ontroerende gediggie soos Eugene Marais met sy Winternag gedoen het? Ek dink
nie dat dit na geaap moet word nie. Maar Winternag het iers anders laat
gebeur. Die Akademie vir Afrikaans in sy volle omvang het in 1909 tot stand
gekom. Dit het die enjinkamer vir die uitbouing van Afrikaans geword. Kyk na

http://akademie.org.za/tuisblad/

Ek dink nie dat so ‘n Akademie vir Shetland sal werk nie. Die bevolking is
te klein met te min terreine van ‘n moderne samelewing.



Dit bring my by ‘n ander saak wat hiermee verband hou. Ek het ‘n liefde en
intense belangstelling in Nederduits of wat mense dit ook al wil noem. Maar
wat het ons vandag? Tientalle dialekte waarvan daardie in die
noord-oostevan Nederland
ooreenkomste vertoon. Die dialekte in noord Duitsland vertoon weer hulle eie
ooreenkomste, maar met ‘n redelike kloof tussen die Nederlandse ooreenkomste
.



Wat kan gedoen word om Nederduits of dit ook al genoem sal word, weer te
laat gedy? Ek dink nie dat ‘n gediggie sal werk nie. Maar al die miljoene
mense wat in die streke woon en tuis die “dialekte” praat, is genoeg. Verderis
daar genoeg verskeidenheid in hulle volk huishoudings om so ‘n opbloei te
ondersteun.



Miskien sal ‘n kunswerk die vonkie verskaf. Maar dan moet dit iets
aangrypend en omvangryk wees soos Homerus se werke vir Griekeland of Dante
se werke vir Italië. Na hierdie vonkie moet die enjinkamer in bedryf
gestelword. ‘
n Akademie vir Nederduits behoort in werking gestel te word waarin die volle
volk huishouding betrek word. Vergeet van politieke grense trek want
dit salnet die
aasdiere lok met al die aaklige geluide wat hulle maak. Dit is wat Apartheid
gemaak het wat dit uiteindelik geword het.



En moenie dat enige wêreldtaal julle vrees bevange maak nie. Hulle is nie
voorwaardes vir uitnemendheid en sorgsaamheid in ‘n bepaalde kultuur nie.
Hulle is eerder die voltrekkers van die dood vir kultuur sowel as natuur.
Orals op die wêreld in alle kontinente is die getuienis besaai vir hulle wat
daarop bedag is. Al beloning op die spel is ontsaglike rykdom waarteen geenland
bestand is nie, selfs nie met gewaande moraliteit nie. Stry eerder nou met
hoop as om later vir ‘n hopelose saak te veg.



Ek hoop genoeg Laaglanders verstaan Afrikaans goed genoeg om hierdie gesprek
verder te voer in watter “dialek “ ook al.



John Tait, ek bewonder jou. Moenie ophou stry vir wat jy lief is nie.



Laastens, om ‘n taal lewend te hou vereis niks minder as ‘n passie nie.



Mooi loop



At de Lange

Pretoria, Maart 2010.



 ===================================================
Send posting submissions to lowlands-l at listserv.linguistlist.org.
Please display only the relevant parts of quotes in your replies.
Send commands (including "signoff lowlands-l") to
listserv at listserv.linguistlist.org or lowlands.list at gmail.com
http://linguistlist.org/subscribing/sub-lowlands-l.html.
===================================================

* *
-------------- next part --------------
An HTML attachment was scrubbed...
URL: <http://listserv.linguistlist.org/pipermail/lowlands-l/attachments/20100320/0fec5113/attachment.htm>


More information about the LOWLANDS-L mailing list