LL-L "Language contacts" 2003.08.30 (04) [A]

Lowlands-L lowlands-l at lowlands-l.net
Sat Aug 30 17:34:08 UTC 2003


======================================================================
L O W L A N D S - L * 30.AUG.2003 (04) * ISSN 189-5582 * LCSN 96-4226
http://www.lowlands-l.net * lowlands-l at lowlands-l.net
Rules & Guidelines: http://www.lowlands-l.net/index.php?page=rules
Posting Address: lowlands-l at listserv.linguistlist.org
Server Manual: http://www.lsoft.com/manuals/1.8c/userindex.html
Archives: http://listserv.linguistlist.org/archives/lowlands-l.html
Encoding: Unicode (UTF-8) [Please switch your view mode to it.]
=======================================================================
You have received this because you have been subscribed upon request.
To unsubscribe, please send the command "signoff lowlands-l" as message
text from the same account to listserv at listserv.linguistlist.org or
sign off at http://linguistlist.org/subscribing/sub-lowlands-l.html.
=======================================================================
A=Afrikaans Ap=Appalachian B=Brabantish D=Dutch E=English F=Frisian
L=Limburgish LS=Lowlands Saxon (Low German) N=Northumbrian
S=Scots Sh=Shetlandic V=(West)Flemish Z=Zeelandic (Zeêuws)
=======================================================================

From: ezinsser <ezinsser at icon.co.za>
Subject: 'Engfrikaans'

Dag almal,

Hier is 'n artikel uit Die Burger van 29-08-2003. Ek vind interessante
raakpunte met ander Laagland tale wat onder druk van ander wêreldtale
probeer oorleef. Dankie aan Stan Levinson wat dit aan my gepos het.

Groete,
Elsie Zinsser
================================================
'Engfrikaans' beteken die einde van Afrikaans

LEOPOLD SCHOLTZ skryf:
DIE hele debat oor "Engfrikaans" na aanleiding van die gemengde
Afrikaans-Engels wat deur 'n jong skrywer soos Jackie Nagtegaal gebesig
word, gaan uiteindelik oor iets diepers as bloot die vryelike gebruik van
Engelse woorde teenoor taalpurisme of so. Baie nugter beskou, en sonder om
in emosionele retoriek te verval, gaan dit oor die oorlewing van Afrikaans.
In 'n artikel in Die Burger het prof. Lina Spies in die verbygaan die hart
van die saak aangeraak toe sy geskryf het: "Verdwyn 'n taal se
standaardvariant, word dit onbruikbaar as onderrigtaal en kan jy maar Ikabod
oor sy toekoms skryf."

In 'n boeiende ontleding wat vandeesweek deur die nuusagentskap Agence
France Presse die wêreld ingestuur is, vertel die taalkundiges Daniel Abrams
en Steven Strogatz van die Cornell-universiteit in Amerika dat meer as 300
tale reeds uitgesterf het en dat 90% van die oorblywende tale nog binne die
huidige geslag gaan uitsterf. Die "taalmoordenaars" wys hulle uit as Engels,
Spaans, Portugees, Russies, Arabies, Swahili, Mandaryns en Indonesiese
Maleis.

Dis interessant om te lees hoe hulle die proses van taalsterfte beskryf.
Aanvanklik, sê hulle, praat 'n hele gemeenskap nog 'n taal. Onder druk van
die veel groter nuttigheidsgraad van 'n oorheersende taal wat deur 'n
owerheid bevoordeel word en ekonomiese waarde het, is daar al hoe minder
eentaalsprekers en al hoe meer tweetaliges.
(En, kan 'n mens byvoeg, hoe groter word die druk om woorde en begrippe van
die dominante taal in die swakker een oor te neem.)
Die beslissende oomblik kom wanneer die minderheidstaalsprekers 'n
minderheid met 'n middeljarige profiel in eie geledere word. Daarna ken die
taal slegs een pad, naamlik 'n sekere dood.
So iets gebeur natuurlik nie oornag nie. Dit kan selfs geslagte duur.

Hier kom 'n mens nou by die waarde van 'n standaardtaal, en in Afrikaans se
eie geskiedenis is daar 'n uitstekende illustrasie wat die punt bewys.
In sy epogmakende werk oor die geskiedenis van die Afrikaners gee Hermann
Giliomee onder meer aandag aan die ontstaan van Afrikaans, en hy dui aan hoe
die eerste sprekers daarvan hoofsaaklik slawe en Khoikhoi was wat Nederlands
gekreoliseer het. Maar aangesien duisende wit mense allengs ook Afrikaans
gepraat het, het die geskrewe Nederlands, veral dié van die Statebybel, as
'n soort standaardtaal bly fungeer.
Só, sê Giliomee, het die geskrewe Nederlands die ontwikkeling van Afrikaans
sowel aangehelp as gestrem. Gestrem, omdat dit gekeer het dat Afrikaans te
ver van sy Nederlandse wortels wegbeweeg. Aangehelp, omdat die bestaan van
'n standaardtaal die oorlewing van Afrikaans in die 19de eeu bevorder het.
Sonder die gebruik van geskrewe Nederlands in die kerk, die koerante en
(altans in die Boererepublieke) op owerheidsvlak sou Afrikaans heel
waarskynlik in die loop van die 19de eeu heeltemal deur Engels oorspoel
gewees het.
Teen die laaste dekades van die 19de en veral vroeg in die 20ste eeu het
Nederlands dié nuttigheidsfunksie begin verloor. Die Afrikaners se eie
nasionale bewussyn het sterk op Afrikaans as mobiliseringsinstrument
staatgemaak, en Nederlands was te ver van die destydse gesproke Afrikaans.
Om in dié omstandighede aan Nederlands vas te geklou het, sou die einde van
Afrikaans beteken het. En dus het mense soos genl. J.B.M. Hertzog, C.J.
Langenhoven en ander bewus die keuse vír Afrikaans gedoen.
Die geskiedenis het gewys dat dit die regte keuse was, al het dit in daardie
stadium na 'n waagstuk gelyk.
Die skryf van aangrypende en hoogstaande gedigte soos Winternag deur Eugène
Marais het bewys dat Afrikaans nou op sy eie bene kon staan.
Maar dit was die gebruik van 'n standaardtaal, Nederlands, wat dit moontlik
gemaak het.
Iets soortgelyks geld nou weer.
Afrikaans is onder druk. As kunstaal floreer dit weliswaar, maar as
owerheidstaal het dit sterk in invloed afgeneem, as handelstaal het dit
feitlik verdwyn, en vir die oorlewing van Afrikaans as wetenskaps- en
onderrigtaal moet daar kwaai geveg word.
As die brabbeltaal Engfrikaans nou ook nog as iets normaals of selfs
wensliks gebesig word, kan dit mettertyd die status van Standaardafrikaans
in die gedrang bring. En as dít eenmaal gebeur, val 'n belangrike skans wat
Afrikaans nog teen die indringing van Engels as oorheersende taal beskerm.
Daar is al verskeie kere in dié rubriek daarop gewys, maar dit bly waar:
Afrikaners en Afrikaanssprekendes in die algemeen moet 'n strategiese keuse
doen of hulle hul taal wil laat oorleef of nie.
En as die taal verdwyn, is die logiese konsekwensie dat die
Afrikaner-identiteit - selfs die nie-rassige, inklusiewe vorm wat ook al
herhaaldelik hier bepleit is - ook daarmee heen. Só eenvoudig is dit.

================================END===================================
* Please submit postings to lowlands-l at listserv.linguistlist.org.
* Postings will be displayed unedited in digest form.
* Please display only the relevant parts of quotes in your replies.
* Commands for automated functions (including "signoff lowlands-l") are
  to be sent to listserv at listserv.linguistlist.org or at
  http://linguistlist.org/subscribing/sub-lowlands-l.html.
=======================================================================



More information about the LOWLANDS-L mailing list