LL-L 'Resources' 2006.10.12 (04) [A]

Lowlands-L lowlands-l at lowlands-l.net
Thu Oct 12 22:28:47 UTC 2006


======================================================================
L O W L A N D S - L * ISSN 189-5582 * LCSN 96-4226
http://www.lowlands-l.net * lowlands at lowlands-l.net
Rules & Guidelines: http://www.lowlands-l.net/index.php?page=rules
Posting: lowlands at listserv.linguistlist.org or lowlands-l at lowlands-l.net
Commands ("signoff lowlands-l" etc.): listserv at listserv.net
Server Manual: http://www.lsoft.com/manuals/1.8c/userindex.html
Archives: http://listserv.linguistlist.org/archives/lowlands-l.html
Encoding: Unicode (UTF-8) [Please switch your view mode to it.]
=======================================================================
You have received this because you have been subscribed upon request.
To unsubscribe, please send the command "signoff lowlands-l" as message
text from the same account to listserv at listserv.linguistlist.org or
sign off at http://linguistlist.org/subscribing/sub-lowlands-l.html.
=======================================================================
A=Afrikaans Ap=Appalachian B=Brabantish D=Dutch E=English F=Frisian
L=Limburgish LS=Lowlands Saxon (Low German) N=Northumbrian
S=Scots Sh=Shetlandic V=(West) Flemish Z=Zeelandic (Zeeuws)
=======================================================================

L O W L A N D S - L * 12 October 2006 * Volume 04
======================================================================

From: 'Elsie Zinsser' [ezinsser at icon.co.za]
Subject: LL-L Griekwa Afrikaans

Haai julle,

Hier is 'n interessante stuk oor Griekwa Afrikaans.

Groete,
Elsie Zinsser

Uit die RGN-verslag onder redaksie van prof. M.C.J. van Rensburg (1984):
Die Afrikaans van die Griekwas in die tagtigerjare.
As die taal se vure kom uitbrand
from http://www.afrikaans.com/
Hans du Plessis, skrywer van die eerste drama in Griekwa-Afrikaans --
Broerse -- gesels oor dié Afrikaans "wat te lank in die buitekamer opgesluit
was".
HOE sê 'n mens in duisend woorde dit waarvoor jy eintlik duisende woorde
nodig het? Die Afrikaans van die Griekwas laat hom nie in bietjie woorde sê
nie, want hy staan nie in boeke nie, steur hom nie aan spelreëls nie en loop
leen nie by Ingels nie. In elk geval: as jy kort moet sê wat lank gesê moes
gewees het, sê jy maklik verkeerd.
Miskien is dit dan beter om by die begin te begin, die begin van Afrikaans,
want sy geboortedatum is lank voor 1875, en sy ma is baie meer as net
Hollands. Nie dat 'n mens daarmee die belang van die GRA ontken nie; nie dat
ons sonder Hollands in die lewe sou gekom het nie. Dis net dat 1652 se mense
vroeg-vroeg die Koi ontmoet het, en die Koi moes maar (omdat hulle die
gekoloniseerdes was) Hollands praat, of hulle nou gewil het of nie. Later
moes die slawe ook Hollands gepraat het. Skeef en krom, maar hulle het
sonder Hollands nie eintlik 'n sê gehad nie ... by wyse van spreke, sien.
Toe is daar van vroeg af drie Hollandse: Hollandse Hollands, Koi-Hollands en
Slawe-Hollands. Die boeretrekke vat Hollandse Hollands Oosgrens toe en
oostelike binneland toe. Die slawe bly saam met hulle Hollands met die
Oosterse spesrytjies by in die Kaap, en die Koi-Hollands pak sy Europese
goeters in 'n Afrika-bondel en loop Weskus op, weg van die Engelse Kaap af.
So staan hulle vandag nog: Transvaalse Afrikaans, Kaapse Afrikaans en die
Koi-een is Oranjerivierafrikaans.
En een van die Oranjerivier se Afrikaanse kom saam met Adam -- die
goewerneur se vrygelate kok -- Dam en sy mense doer lankal uit Saldanha se
wêreld in Klaarwater aan. Later noem hulle die plek Griekwastad en hulle
noem hulleself Griekwas.
Griekasse, eintlik, want hulle Afrikaans het sy eie Afrikageit behou: in
woordeskat, fonologie, morfologie, sintaksis en semantiek. Geleerde woorde
wat wil sê dat Oranjerivierafrikaans 'n subdialek het wat anders is as die
standaardvorm van Afrikaans. En dialek en subdialek het geen negatiewe
tassie in die hand nie; dis net anders. Mooi anders.
Want in Griekwa-Afrikaans sit daar 'n annerlike mooi, 'n ietsigheid wat
smaak of dit tussen die duine in die strate geboor het. Dis anders. Dit weet
nie van opsmuk nie, dit ken nie pretensie nie. Dit leef in die monde van
mense wat met mekaar moet praat om te kan oorleef, en met die Here moet kan
gesels om die seën van sy harde stuk aarde raak te lewe.
Die taal het nie asem om te mors nie; tierlantyntjies kan jou sê te swaar
maak vir die son wat opslagstrale oor die panne brand. Daarom sê jy in dié
stuk Afrikaans wat jy te sê het. En jy sal vir hom uitken, want hy sê Afrika
se hart raak, want sy tonge klik van hoeka af op Afrika se maat. En hy vat
die voetpad tussen die doringse deur, en hy loop sê die siel se dinge in die
lyf se woorde.
Vir te lank is Afrikaans gedefinieer as Standaardafrikaans. Ons was in ons
akademiese besigwees met Afrikaans miskien te beperk tot die een enkele
dialek: Algemeen-Beskaafd, en ons het geglo Standaard is sinoniem aan
suiwer, al kon niemand nog ooit suiwer suiwer omskryf nie. In ons
taalbewegings na 14 Augustus 1875 was die bewusmaking, die stryd en die
handhawing beperk tot aandag aan die normdialek. Hierdeur is die grootste
gedeelte van die Afrikaanse taalgemeenskap uit sy eie erfdeel uit
gedefinieer.
En ons het vir lank die juwele se bestaan geïgnoreer.
Dit is die pionierswerk van 'n taalkundige soos Christo van Rensburg wat
Afrikaans se kraalhekke weer kom oopgooi het, en nou, noudat Afrikaans vry
begin asemhaal, kan ons sy hele wonder begin sien.
Die Afrikaans van die Griekwas is daarom maar een van die variëteite van
Afrikaans, maar in sy wese het dit relatief goed bewaar gebly, amper
gepreserveerd omdat die kontak na buite toe beperk was. Juis hierin het die
skat bewaar gebly, want saans om die vure het hy geklink. In die nagte onder
die Suiderkruis kon hy vry van die moderne media sy eie leef leef.
Maar saam met ontwikkeling kom ook die afsterf van die bewaarde wonder, en
die vure is besig om dood te gaan, want die neon begin tot in die uithoeke
ook te skyn.
Ons gun die uithoeke die lig, maar daar is iets van die oerheid van
Afrikaans wat sku is vir die lig wat deur koperdrade kom.
Baie van die mooi in die taal self en die mooi in hoe hy kan sê, wil in die
kunsmatige lig nie meer blink soos onder die sterre nie en vuur het die
gewoonte om in die televisie se lig dood te wil smoor.
Daarom moet daar geskryf word in die vuurvorme van Afrikaans, opgeskrywe
word voordat dit nie meer daar is nie.
Die vriendelike taal leef in die baie monde wat op Afrikaans glimlag, maar
daar was in die verlede vir min iets om oor te glimlag. Daarom lê die
voortbestaan nou ook daarin dat ons vir al ons monde die reg van lag en die
reg van vry sê verseker. Hierin sit die taak van die bevorderaar van
Afrikaans: om die grootsheid en die rykdom en die verskeidenheid saam te vat
toekoms toe en die toekoms van 'n taal lê in die vermoë van sy mense om die
wonder van God talig te herskep.
Dr. Hans du Plessis is hoof van die ATKV se Skryfskool aan die
Potchefstroomse Universiteit vir CHO.
? Ons maens is loutere Griekasse.
? Toe't die kar nou loop verongeluk.
? Jou kar sallie loop staan nie.
? Ek het gebore op Elandsfontein.
? Daar sal jy nou loop dood.
? Jy moet nog bekeer om te saam God wees.
? Daar wat meneer-goed nou gewas het.
? Voor wat sal hy so vinnig staan ry?
? Jy moet die klipperse breekslat.
? Hy't hulle se bokke plat geverkoop (alles verkoop).
? Ek in ou Kaattjie't gevat mekaar in geïg.
? Jy kry net drie dae kopseer dan dood jy.
? Toe vertrek die kêrel se asem (hy sterf).

==============================END===================================
* Please submit postings to lowlands-l at listserv.linguistlist.org.
* Postings will be displayed unedited in digest form.
* Please display only the relevant parts of quotes in your replies.
* Commands for automated functions (including "signoff lowlands-l") are
  to be sent to listserv at listserv.linguistlist.org or at
  http://linguistlist.org/subscribing/sub-lowlands-l.html.
======================================================================



More information about the LOWLANDS-L mailing list