LL-L "Language maintenance" 2008.10.30 (03) [A]

Lowlands-L List lowlands.list at GMAIL.COM
Thu Oct 30 19:45:09 UTC 2008


===========================================
L O W L A N D S - L - 30 October 2008 - Volume 03
-------------------------------------------------------------------------
Please set the encoding mode to Unicode (UTF-8).
If viewing this in a web browser, please click on
the html toggle at the bottom of the archived page
and switch your browser's character encoding to Unicode.
===========================================


From:  Elsie Zinsser <ezinsser at icon.co.za>
Subject: L-L: Language sustainability / survival

Haai julle,



Hierdie artikel het in die Beeld verskyn en sal jul dalk interesseer.



Groete,



Elsie Zinsser



*Hoe meer tale, hoe meer dinge
*Okt 27 2008 08:15:28:260NM  - (SA)   **

Drie jaar gelede is die eerste stap gegee om die bevordering van
meertaligheid aan universiteite te bekyk. *Alet Rademeyer* het gaan kyk wat
sedertdien gebeur het.

In Desember 2005 het die rektore van die sogenaamde Historiese Afrikaanse
Universiteite (HAU's) 'n verslag aan me. Naledi Pandor, minister van
onderwys, voorgelê getitel "Multi-lingualism and related issues in higher
education in South Africa".

Die rektore was eensgesind oor die behoud van Afrikaans as onderrigtaal in
die konteks van meertaligheid en het ook verkies om na hulself as meertalige
universiteite te verwys.

Hulle het versoek dat Pandor 'n finansieringsformule oorweeg waardeur
hoëronderwysinstellings wat meertaligheid bevorder, bykomende finansiering
sal ontvang.

Met inagneming van die individuele modelle van meertaligheidsbevordering aan
die onderskeie instellings was aanduidings dat dit tientalle miljoene rande
sou beloop.

Dit is onder meer vir bykomende personeel, vertaal- en tolkdienste en
bykomende infrastruktuur.

In dié verslag het die rektore daarop gewys die regering het 'n
verantwoordelikheid om geldelike steun en aansporings te gee vir bykomende
tale bo en behalwe Engels.

Die rektore het die instelling van 'n institusionele faktor in die
finansieringsraamwerk vir universiteite gesien as 'n noodsaaklike vereiste
ten einde die nodige aansporingsmeganismes te skep vir instellings wat
meertaligheid aktief nastreef en in werking stel, asook om hulle te bemagtig
om die aksies te onderneem.

Die bykomende koste is toe geskat op 'n verhoging van 10% tot 15% in die
universiteite se individuele begrotings. Dit was gegrond op studies wat in
Finland gedoen is.

Die rektore het Pandor toe onder meer ook versoek om 'n projek te begin
waardeur presiese kostebepaling vir die bevordering van meertaligheid aan
instellings vasgestel kon word.

*Kommunikasie lol*

In reaksie op die verslag het Pandor toe 'n gekonsolideerde kosteberaming
van die vyf universiteite versoek.

Sover bekend het van die universiteite individuele kosteberamings aan die
onderwysdepartement gelewer, maar op sterkte van die uiteenlopendheid van
die modelle van meertaligheidsbevordering wat die onderskeie instellings
gebruik, het die gekonsolideerde kostebepaling vir al vyf universiteite nie
gerealiseer nie.

Sedertdien blyk daar 'n kommunikasiegaping tussen die universiteite en die
onderwysdepartement te wees om die ideaal van meertaligheid verder te voer.

Universiteitsbesture opper gereeld verskonings dat hulle nie geld vir
meertaligheid kry nie en sommige gebruik dit ook as rede waarom daar nie
uitvoering aan taalregte gegee kan word wat deur sekere studente opgeëis
word nie.

Aan die Universiteit van Pretoria (UP) het dit daartoe gelei dat 'n groep
studente verlede maand besluit het om self 'n petisie aan Pandor te gaan
oorhandig waarin hulle R150 miljoen per jaar vir meertaligheid vra.

Pandor het vroeër vanjaar aan studente te kenne gegee daar is wel geld vir
meertaligheid en Afrikaans op kampusse, maar dat sy wag op versoeke van
universiteitsbesture in dié verband.

Dr. Molapo Qhobela, adjunk-direkteur-generaal van hoër onderwys, het by
navraag gesê Pandor het universiteite genooi om versoeke in te dien oor
hoeveel geld nodig is vir die bevordering van meertaligheid en dat die
departement nog hierop wag.

Die universiteite dra op hul beurt nie kennis van 'n amptelike versoek om 'n
voorlegging te doen oor hul hulpbronbehoeftes ter bevordering van
meertaligheid nie.

Van die instellings het wel einde verlede jaar 'n brief van die departement
gekry waarin verdere inligting versoek is, soos 'n volledige lys van
kursusse, programme en kwalifikasies wat in Afrikaans en Engels per kampus
aangebied word, en wat die studente-inskrywingsgetalle, sukses- en
slaagsyfers op grond van ras en geslag is vir elke kursus, program en
kwalifikasie wat in parallel- of dubbelmedium aangebied word.

Ondanks al die onduidelikhede het die universiteite voortgegaan met
ontledings van hul situasies en eie geld begin gebruik om meertaligheid te
bevorder.

*Min kies Afrikaans aan UJ*

Aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het 'n studie wat twee jaar gelede
gedoen is, getoon hoewel die koste van meertaligheid jaarliks styg, dit
sowat 1% van die institusionele begroting bly.

Prof. Marlene Verhoef, direkteur taalsake aan die NWU, sê dit is laer as die
internasionale norm aan Kanadese universiteite, waar dit sowat 8% is. Dit is
ook laer as die nasionale norm van 2%, soos Emzantsi Associates in 2003
geraam het dit die staat sal kos om die nasionale taalbeleidsraamwerk in
werking te stel.

Verhoef meen as daar telkens 'n 2%-heffing van die institusionele begroting
is, sal elke universiteit in Suid-Afrika sy verpligtinge ten opsigte van die
vestiging van 'n meertalige werk- en studie-omgewing kan nakom.

Die NWU het vanjaar sowat R15 miljoen begroot om 'n meertaligheidsomgewing
te vestig.

Die NWU het drie amptelike tale (Tswana, Engels en Afrikaans), terwyl Sotho
as werktaal vir die Vaaldriehoek-kampus geld. Die universiteit gebruik
grotendeels Afrikaans en Engels in klasse, en om toegang te verhoog word
onder meer van tolkdienste gebruik gemaak.

In die geval van die Universiteit van Johannesburg (UJ) word die gebruik van
Afrikaans as onderrigtaal bepaal op grond van hoe redelik prakties moontlik
dit is.

Faktore wat in ag geneem word in die besluit watter programme in Afrikaans
en Engels (parallel) aangebied word, sluit in of daar 'n redelike vraag
daarna is; die beskikbaarheid en bereidwilligheid van personeel wat dit in
Afrikaans kan doen en die kapasiteit van die fakulteit en akademiese
departemente.

Die UJ het 'n lys beskikbaar van programme wat aanstaande jaar in
parallelmedium aangebied sal word.

Die universiteit het ook onlangs advertensies geplaas om Afrikaanssprekende
studente van dié programme bewus te maak. In sommige kringe is dit as 'n
doelbewuste werwingsaksie van Afrikaanse studente gesien. Die UJ het dit
ontken.

Van die 45 232 studente by dié universiteit het 42 430 vanjaar onderrig in
Engels verkies en 2 802 in Afrikaans. Benewens dié programme wat parallel
aangebied word, word die res in Engels aangebied.

Om meertaligheid te bevorder, meen die UJ sy grootste behoefte is tans die
aanstelling van bykomende personeel wat in verskillende tale kan onderrig
gee, sowel as geld vir vertaal- en taalversorgingsdienste.

"Om teoreties te voldoen aan die ideaal van 'n viertaalbeleid (Afrikaans,
Engels, Pedi en Zoeloe) wat volledig toegepas word, sal 'n drie- tot
viervoudige toename in akademiese personeel en steunpersoneel nodig wees,"
luidens 'n verklaring.

Die UJ het by navraag gesê die jaarlikse begroting vir sy nuutingestelde
taaleenheid beloop jaarliks sowat R600 000. Die sluit nie die salarisse in
van die vier lede van die eenheid nie, maar wel die kontrakaanstellings om
tolk- en vertaalwerk te doen.

*Middeweg nodig*

Die (UP) is ook in die proses om weer na sy taalbeleid te kyk.

'n Konsepverslag van die taalbeleidkomitee van die senaat wat in Junie
opgestel is, is tans in omloop.

Volgens prof. Niek Grové, registrateur van die UP, het die verslag egter
geen amptelike status binne die universiteit nie en is die gesprek binne die
universiteit hieroor nog nie afgehandel nie.

Uit navorsing wat die komitee gedoen het, het dit geblyk dat die kapasiteit
om in albei tale aan die UP te doseer, met bestaande personeel onvoldoende
is. Een van die probleme is dat bykans alle doserende personeel in staat is
om in Engels te doseer, maar dat 21% van akademiese personeel nie die vermoë
het om in Afrikaans te doseer nie.

Wat die uitvoering van taalbeleid in voorgraadse en nagraadse modules en
eksamens betref, het dit geblyk dat die ideale wat die universiteit gestel
het om studiegidse, leermateriaal en eksamens in Engels en Afrikaans
beskikbaar te stel, nie nagekom word nie.

Die komitee het verskeie aanbevelings gedoen. Dit sluit in dat aangesien die
koste van duplisering van alle voorgraadse modules 'n probleem is, 'n
middeweg gevind moet word waardeur reg geskied aan die behoud van Afrikaans
sonder om uitermate druk uit te oefen op die universiteit se ander
doelwitte.

Voorts moet die aanbied van lesings in dubbelmedium slegs gebruik word
wanneer alle studente in staat is om albei tale te verstaan.

Daar is aanbeveel dat Pandor genader word om bykomende geld sodat die
onderwysdepartement se taalbeleid én dié van die universiteit betekenisvol
toegepas kan word.

Luidens dié verslag het die UP op grond van voorlopige berekenings sowat R35
miljoen ter bevordering van meertaligheid nodig.

Die komitee het ook aanbeveel dat as voldoende bykomende geld nie voorsien
word nie, tolkdienste ook oorweeg moet word.

Die Universiteit van Stellenbosch (US) het kosteberekenings vir
meertaligheidsbevordering gedoen deur na drie moontlike scenario's te kyk.

Dit behels dat alle modules in parallelmedium aangebied word; dat slegs
modules met meer as een lesinggroep deur parallelmedium aangebied word; of
dat slegs modules met meer as 50 inskrywings in parallelmedium aangebied
word.

Na gelang van die omvang en kompleksiteit van dié modelle het die
randwaarde-koste in 2005 reeds tussen R5 miljoen en R45 miljoen gewissel.

Prof. Russel Botman, rektor van die US, het in sy oorhoofse strategiese plan
R23 miljoen vir meertaligheidsbevordering oor die volgende paar jaar
geoormerk. Hierbenewens beloop die begroting van die US se taalsentrum R14
miljoen wat op verskeie taalbevorderingsaksies fokus.

Die US het gesê die taalbevorderingsaksies plaas groot druk op die
universiteit se begroting en enige bykomende geld van die departement sal
verwelkom word.

*Moeilik om te sê*

Prof. Sakkie Steyn, algemene registrateur aan die Universiteit van die
Vrystaat (UV), het gesê die universiteit bevorder meertaligheid binne sy
taalbeleid wat parallelmediumonderrig onderskryf.

Die grootste komponent van die begroting vir meertaligheid volgende jaar is
die kapitaaluitgawe vir die aankoop van bykomende toerusting vir tolkwerk in
klasse, koshuise en op vergaderings.

Die vraag na tolkwerk aan die UV neem toe namate koshuisintegrasie verder
toegepas word en dit ook oorweeg word waar dosente nie in albei hooftale kan
onderrig gee nie.

Steyn het gesê dis moeilik om te sê hoeveel bykomende geld die universiteit
nodig het om die ideaal van meertaligheid te bereik.

Hoewel dit moeilik is om die nieregstreekse koste te bepaal, is die
regstreekse koste vir volgende jaar R2,4 miljoen. Dit sluit
uitgekontrakteerde vertaling, tolkwerk, kapitaaluitgawes aan toerusting,
bedryfsuitgawes en die bestuur van tolkwerk in.

*'n Donker prentjie*

Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite kan binne die volgende vyf tot
tien jaar heeltemal verdwyn as daar nie nóú ingegryp word nie, meen prof.
Hermann Giliomee, navorser en historikus van Stellenbosch.

Giliomee het vroeër vandeesmaand 'n baie donker prentjie oor die posisie van
Afrikaans aan hoër-onderwysinstellings geskets op 'n konferensie van
Afrikaanse organisasies wat deur die FAK gereël is. Die tema van die
konferensie was Die Grondwetlike Stand van Afrikaners, 2008.

Giliomee het gesê dit het krities noodsaaklik en van dwingende belang geword
dat Afrikaanse organisasies oor 'n nuwe pad met die regering en
universiteite moet onderhandel om te verseker dat pakkette vir studente
beskikbaar is wat in Afrikaans onderrig wil word.

Volgens Giliomee het Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK)
gesneuwel en daarna as 'n stroom aan die Universiteit van Port Elizabeth
(UPE) opgedroog.

Aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) is dit vinnig op pad uit. En aan
die universiteite van Pretoria (UP), Bloemfontein (UV), die
Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) en Stellenbosch
(US) is dit onder baie groot druk. Hy het gesê dubbel- en
parallelmedium-onderrig wat redelik wyd by drie van die vier instellings
gebruik word, is bekend daarvoor dat die kleiner tale uiteindelik sneuwel.
Volgens Giliomee hang die voortbestaan van tolkdienste op die
Potchefstroom-kampus af van 'n goedgesinde rektor met dieselfde dryfkrag as
dr. Theuns Eloff, gesteun deur die universiteitsraad.

Hy het gesê by sowel die UP as die UV het die proporsie voorgraadse studente
wat in Afrikaans wil studeer, tot tussen 40% en 45% gedaal.

Aan die US het wit Afrikaanse studente tussen 2005 en 2008 van 68% tot 63%
gedaal, terwyl die proporsie bruin Afrikaanse studente, wat eintlik dinamies
moes gegroei het om die toekoms van Afrikaans te verseker, op 11% gestagneer
het.

Giliomee meen daar is twee ander faktore wat Afrikaans ondergrawe. "Die noue
band van die ou Afrikaanse universiteite met die breë Afrikaanse gemeenskap
het plek gemaak vir die teenoorgestelde: 'n soort afsydigheid by sekere
rektore en besture wat daarby staan dat die universiteit outonoom is.
"Plegtige ondernemings wat gegee is toe Engels as voertaal ingevoer is, word
gerieflik vergeet.

"Die eie belang van die universiteit tel die hoogste. Die Gerwel-komitee van
2001 het aanbeveel dat minstens twee universiteite die taak opgelê word om
die reg van toegang in Afrikaans as voertaal dinamies uit te bou, veral op
voorgraadse vlak. "Onenigheid onder die vyf Afrikaanse rektore het egter op
tragiese wyse verhinder dat hierdie gulde geleentheid benut word."

Giliomee het gesê die onverbiddelike afskaling van Afrikaans op
universiteitsvlak met die stilswyende goedkeuring van die regering is die
kulturele ekwivalent van die onteieningswetsontwerp op materiële gebied.

Terwyl Afrikaans besig is om die kreeftegang te gaan, het Giliomee daarop
gewys dat meer as 80% van Afrikaanse studente verkies om in Afrikaans te
leer en dat meer as 85% van Afrikaanse leerlinge hul onderrig in Afrikaans
kry.

Hy het gesê as die agteruitgang van Afrikaans op universiteitsvlak
voortgaan, sal dit ook later na hoër- en laerskole oorspoel.
-------------- next part --------------
An HTML attachment was scrubbed...
URL: <http://listserv.linguistlist.org/pipermail/lowlands-l/attachments/20081030/a47414cb/attachment.htm>


More information about the LOWLANDS-L mailing list