LL-L "Language use" 2010.07.05 (03) [AF-EN]

Lowlands-L List lowlands.list at GMAIL.COM
Mon Jul 5 20:48:55 UTC 2010


=====================================================
*L O W L A N D S - L - 05 July 2010 - Volume 03*
lowlands.list at gmail.com - http://lowlands-l.net/
Posting: lowlands-l at listserv.linguistlist.org
Archive: http://listserv.linguistlist.org/archives/lowlands-l.html
Encoding: Unicode (UTF-08)
Language Codes: lowlands-l.net/codes.php
=====================================================


From: "Elsie Zinsser" <ezinsser at mweb.co.za>

Subject: L-L: Language usage (Afrikaans as saketaal)


Haai almal, Die aangehegte artikel het op 2 Julie 2010 in die Beeld se
Sakeafdeling verskyn en verwys na die gebruik (of nie) van Afrikaans as
saketaal.   Hi all, The article below appeared on 2 July 2010 in the Beeld
newspaper’s business section and makes reference to the usage (or not) of
Afrikaans as business language.   Groete, Elsie Zinsser



E-pos:   ezinsser at mweb.co.za

Skype:  mariaelsie1951

Tel:       (+27) 011 869 9772

Sel:      (+27) 083 696 0110
______________________________________________________________________ Is
Afrikaans regtig te duur vir die sakewêreld?

Stef Coetzee

Ryk van Niekerk, redakteur van ­Sake24, het in twee rubrieke ’n sensitiewe
aar raak geboor – slegs drie genoteerde maatskappye publiseer steeds hulle
jaarverslae in Afrikaans.  Die verskoning: “Dit het net te duur geword.”

Bogenoemde bevinding behels natuurlik meer as net die publiseer van
maatskappyresultate. Wat is aan die gebeur met Afrikaans as saketaal?

Met die internasionalisering van korporatiewe ondernemings in Suid-Afrika
het maatskappye gaandeweg oorgeslaan na Engels as die saketaal wat dag tot
dag gebruik word – veral deur middelvlakbestuurders.

Daar is ’n jong geslag bestuurders wat nie meer ’n volledige Afrikaanse
ekonomie- en bestuurswoordeskat het nie.

Terugskouend is dit belangrik om te besef dat Afrikaans as saketaal nie
losgemaak kan word van die sosiaal-politieke en ekonomiese oorgange wat die
land gemaak het nie. Onder die vorige politieke bedeling het Afrikaans as
saketaal oënskynlik sy hoogtepunt bereik. Maar dit is natuurlik ’n vraag of
dit volhoubaar was.

Die ontwikkeling van Afrikaans in die sakewêreld het veral ’n groot hupstoot
gekry met die Ekonomiese Volkskongres van 1939 en die stigting van die
Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) in 1942, die Reddingsdaadbond en Federale
Volksbeleggings. In die drie dekades ná die Ekonomiese Volkskongres het
Afrikaans as saketaal vinnig ontwikkel en is innoverende en beskrywende
woorde daargestel.

Aan universiteite is ekonomiese en bestuursvakke in Afrikaans aangebied en
Afrikaanse studente het dit verkies om verhandelinge en proefskrifte in
Afrikaans te skryf.

Finansiële en ekonomiese tydskrifte het die lig gesien en ’n kernrol gespeel
om die algemene publiek “ekonomies geletterd” te maak.

Die AHI het in dié tydperk ook ’n hoogtepunt beleef en was ’n invloedryke
organisasie met ’n binnebaan na die regering. Dit was ook die versamelpunt
van Afrikaanse sakelui wat in Afrikaans oor die ekonomie en sake kon praat
en besin.

Afrikaanse sakelui was egter altyd meer pragmaties wat hul saketaal betref.
Hoewel hulle binne ondernemings feitlik deurgaans Afrikaans was, het hulle
in interaksie met nie-Afrikaanse sakelui altyd in Engels sake bedryf. Omdat
Afrikaans die voertuig na die besluitnemers van weleer was, het
Engelssprekende sakelui hul bes gedoen om ook in Afrikaans te kommunikeer as
deel van die destydse beleid van tweetaligheid.

Daar was egter ook Afrikaanse ­sakelui wat sover gegaan het om Afrikaans as
hul kultuurtaal en Engels as hul saketaal te beskou.

Met die koms van die nuwe politieke bedeling het dinge uiteraard ingrypend
verander. Vele maatskappye het hul mark verbreed en multinasionale
ondernemings geword. Dié ondernemings het oorgeslaan na Engels in hul
kommunikasie binne en buite die maatskappy. Engels het spoedig die lingua
franca van die sakewêreld geword.

Aan histories Afrikaanse universiteite word ekonomiese en bestuursvakke
steeds in Afrikaans gedoseer. Maar hier woed ook intense taaldebatte oor die
parallel- en dubbelmediumopsies van klasgee. En studente verkies toenemend
om hul skripsies en verhandelings, en dosente hul artikels, in Engels te
skryf.

Afrikaanse sake- en finansiële bylaes tot koerante en tydskrifte lewer
steeds ’n belangrike bydrae en het myns insiens onder die invloed van groter
mededinging baie verbeter.

En les bes is die AHI steeds daar, weliswaar nou as ’n inklusiewe Afrikaans
georganiseerde sake-organisasie wat ’n sentrum van deskundigheid en
dienslewering vir sake bly. Die AHI het oorleef en is vandag goed
geposisioneer as ’n strategiese rolspeler in die veld. Daar is ook goeie
tekens van nuwe uitbreiding op die sake­kamervlak wat belofte inhou.

Waarom behoort maatskappye dus steeds hul jaarverslae in Afrikaans te
publiseer?
Nie uit deernis nie, maar om objektiewe redes.

Eerstens is Afrikaans steeds ’n belangrike taal in Suid-Afrika wat
maatskappye nie lig moet opneem nie.
Kom ons kyk na ’n paar feite:

-Afrikaans is een van die grootste spreektale in Suid-Afrika met 6 miljoen
eerstetaal-sprekers. As die tweedetaal-sprekers bygetel word, is dit iewers
tussen 12 miljoen en 16 miljoen.

-Afrikaans is die taal van baie mense wat in die struggle teen apartheid
was.

-Afrikaans is ook ’n sterk streektaal en word in die meeste provinsies as ’n
belangrike kommunikasietaal erken.

-Afrikaans is volledig taal en het ontwikkel as ’n geskrewe of digitale
wetenskaps-, sang- en saketaal.

-Dit is ook ’n taal wat ryk aan metafore en uitdrukkings is. Uitdrukkings
soos nogál, boer maak ’n plan, bosberaad en dinkskrum word vandag algemeen
deur nie-Afrikaanssprekendes gebruik.

Daar is ook ekonomiese feite:

-Volgens die Buro vir Marknavorsing (2009) is Afrikaanssprekendes steeds die
groep met die grootste koopkrag in die land (32,3% van die totaal);

-Die buro het ook bevind dat Afrikaanssprekende beleggers op die JSE die
sterkste groei toon; en

-Afrikaanssprekendes is die grootste kopers van finansiële produkte soos
kort- en langtermynversekering en begrafnispolisse asook viertrekvoertuie.
(Dit is veral ’n boodskap aan maatskappye in die veld!)

-En Afrikaans is die taal van ’n beduidende deel van die ekonomies aktiewe
bevolking van Suid-Afrika.

Daar is dus goeie redes rakende die krag van die Afrikaanse taal wat
taaldemografiese, ekonomiese en ander redes betref waarom maatskappye nie
sommer moet wegdoen met jaarverslae in Afrikaans nie.

Ek is nie oortuig van die kostefaktor nie. Waarom kan jaarverslae nie in
Afrikaans en Engels, rug aan rug gebind en gepubliseer word nie? En as daar
meer verslae gedruk word, daal die eenheidskoste mos, of hoe?

Ek stem saam met dr. Danie Cronjé as hy sê dat Afrikaans nie eksklusief
gebruik moet word ten koste van enigiemand anders nie (Sake24, 25 Mei 2009).


Hy gaan verder: “Ons praat baie oor moedertaalonderrig waaroor ons besonder
sterk voel, maar as dit by handel en handelsboodskappe kom, is ons minder
besorg. In werklikheid is dit egter ’n voorvereiste. En as jy nie self vir
die taal opstaan nie, wie gaan dit namens jou doen?”.

Miskien moet maatskappye weer ’n keer dink oor hul jaarverslae.

*Prof. Coetzee is die uitvoerende hoof van die AHI en buitengewone professor
aan die Stellenbosse Bestuurskool. Die gedagtes in die rubriek is egter sy
eie.**
*_____________________________________________________________________



=========================================================
Send posting submissions to lowlands-l at listserv.linguistlist.org.
Please display only the relevant parts of quotes in your replies.
Send commands (including "signoff lowlands-l") to
listserv at listserv.linguistlist.org or lowlands.list at gmail.com
http://linguistlist.org/subscribing/sub-lowlands-l.html.
http://www.facebook.com/?ref=logo#!/group.php?gid=118916521473498<http://www.facebook.com/?ref=logo#%21/group.php?gid=118916521473498>
=========================================================
-------------- next part --------------
An HTML attachment was scrubbed...
URL: <http://listserv.linguistlist.org/pipermail/lowlands-l/attachments/20100705/a0b23497/attachment.htm>


More information about the LOWLANDS-L mailing list