LL-L "Language varieties" 2011.04.12 (02) [AF]

Lowlands-L List lowlands.list at GMAIL.COM
Tue Apr 12 18:31:52 UTC 2011


=====================================================
L O W L A N D S - L - 12 April 2011 - Volume 02
lowlands.list at gmail.com - http://lowlands-l.net/
Posting: lowlands-l at listserv.linguistlist.org
Archive: http://listserv.linguistlist.org/archives/lowlands-l.html
Encoding: Unicode (UTF-08)
Language Codes: lowlands-l.net/codes.php
=====================================================



From: "dealangeam" <atdelange at iburst.co.za>
Subject: LL_L "Language varieties" [AF]

Beste Piet,

Jy hoef glad nie verskoning te vra nie. Onderwerpe kom en gaan op
epos-werwe. Maar baie dankie dat jy die onderwerp weer lewe gegee het.

Jy gee toe dat ons inderdaad Natuurlike Tale (NT) en Rekenaar Tale (RT) moet
vergelyk om tot dieper insigte te kom. Dankie. Maar ek het veels te min die
verskil benadruk. In NT praat mense met mekaar terwyl in RT mense en
masjiene praat. Mense groei skeppend in tale terwyl masjiene nie oor ‘n eie
kreatiwiteit beskik nie. Dit is juis hierdie verskil wat ons ‘n dieper insig
in beide NT en RT gee.

Hierdie verskil in kreatiwiteit gee tot die volgende aanleiding. In ‘n RT
MOET ‘n bepaalde sin “een-tot-een afbeeld” tot ‘n stel masjien bewerkings.
(In wiskunde doen die “=” teken dit.) Maar in ‘n NT SAL ‘n bepaalde sin
“een-tot-veel afbeeld” in ‘n versameling van betekenisse.(In wiskunde doen
die “<” teken dit.)

Ek sal probeer om dit in meer verstaanbare, maar selde aanvaarbare, begrippe
te verduidelik. Lewe gebeur volgens die “<“ terwyl die “=” die dood inlui.
NT tale lewe terwyl RT dood is, behalwe wanneer lewende mense dit verander.
Daarom is ‘n spontane evolusie in RT onmoontlik.

Jy is reg wanneer jy stel dat wanneer sprekers van ‘n taal nie die terme van
die driemanskap (wetenskap, industrie tegnologie) akkommodeer nie, dit
moeilik sal kan voort bestaan. Maar dit is nie weens ‘n swakheid in daardie
taal nie.. Dit is omdat die driemanskap op sigself nie lewe het nie, maar
dood is. Wanneer mense dus voorrang gee aan die dooie driemanskap, is die
dood van meer as duisend NT onafwendbaar en uiteindelik die dood van bykans
die hele mensdom.

Wat my baie grief oor die studie van tale se morfologie, is dat die klem
eerder op die “=” as die “<“ is. So ‘n studie kan nie die dood van ‘n taal
verhoed nie, al kan dit gebruik word om ‘n selfs ‘n dooie taal vorm te gee.
Wat ons regtig nodig het, is hoe om die lewe van ‘n taal te behou en selfs
te bevorder.

Sou ek nou ‘n term vir so ‘n studie gebied in tale moes voorstel en vasklou
dat dit van Latynse of Griekse oorsprong moes wees, sou dit
“vitolingostudia” (Latyn) of “bioglossologie” (Grieks) wees. Die terme is
afgryslik. Maar nog afgryfliker is dit wanneer ‘n natuurlike taal uitsterf,

Piet, ek eer jou en ander wat keer Stellingwerfs uitsterf.

Mooi loop

At de Lange



Naskrif. Ek skryf in Afrikaans om dit te bevorder onder die sprekers van
laaglandse tale. Maar juis daarom lees meeste laaglanders nie bydraes in
Afrikaans of ander laaglandse tale nie. Hulle verkies eerder Brits (die eens
imperiale en nou globale dialek van Engels ;-). Ek wonder hoeveel Britte nog
Ou Engels sal kan lees en verstaan. Ek twyfel of dit so hoog as 1% sal wees.
Stellingwerfs vaar veel beter, selfs as dialek van Laag-Saksies. Ek vermoed
dat dit nader aan 40% is.



=========================================================
Send posting submissions to lowlands-l at listserv.linguistlist.org.
Please display only the relevant parts of quotes in your replies.
Send commands (including "signoff lowlands-l") to
listserv at listserv.linguistlist.org or lowlands.list at gmail.com
http://linguistlist.org/subscribing/sub-lowlands-l.html.
http://www.facebook.com/?ref=logo#!/group.php?gid=118916521473498
===============================================================
-------------- next part --------------
An HTML attachment was scrubbed...
URL: <http://listserv.linguistlist.org/pipermail/lowlands-l/attachments/20110412/c346844b/attachment.htm>


More information about the LOWLANDS-L mailing list