LL-L "Etymology" 2009.04.24 (01) [A]

Lowlands-L List lowlands.list at GMAIL.COM
Fri Apr 24 18:35:11 UTC 2009


===========================================
L O W L A N D S - L - 24 April 2009 - Volume 01
===========================================

From: "E Zinsser" <ezinsser at icon.co.za>
Subject: L-L: etymology ?

Haai julle,

Die Beeld koerant het eergister die taalverwante skrywe van ons Cecile
Cilliers geplaas.
Lyk vir my dat E. dregs en tripe dan verwant kan wees? Of?

Groete,
Elsie Zinsser

*------------------------------------------------*

*Beeld-deurloop: Op ’n draf agter varkkos aan
*Apr 22 2009 05:06:19:570PM  - (SA)

Cecile Cilliers

In my naaste boekwinkel se nuusbrief was daar die afgelope week ’n prysvraag
oor een van die boeke wat in die winkel beskikbaar is: Wat is “traif”, wil
hulle weet.

Die antwoord was my toe nie onbekend nie (dit kom buitendien in die
nuusbrief voor): “traif” is die Jiddisje woord vir kos wat nie kosjer is
nie.

Ek stuur my antwoord in, maar in my agterkop bly iets knaag. In Afrikaans,
weet ek, is daar ’n gelykklinkende woord wat “varkkos” beteken. Maar ek kry
dit nêrens nie. Nie in die Nasionale woordeboek nie, nie in die HAT nie, en
ook nie in die Concise Oxford of Langenscheidt se Duitse sakwoordeboek nie.

Is buitendien nie seker waarna ek soek nie.

Ek vra my Duitse swaer. Hy blaai deur sy woordeskat, soek in sy
jeugherinneringe, maar moet bes gee. Het ek darem die kompetisie gewen? wil
hy weet. Dit sluit eers die einde van die maand, sê ek, en skakel my vriend
Jon Tilley.

Jon was feitlik sy hele lewe lank varkboer; nou bedryf hy ’n hoogs
suksesvolle saak wat kos in die korrekte verhoudings meng vir dragtige of
lakterende sôe, varkies vir die mark en bere wat die stoetlyn moet voortsit.
Jon, vra ek, ken jy “traif”? Nee, hy kan nie help nie, maar hy vra sy
woordeboekvriendin Elizabeth om my te bel.

Ek lê vir haar my probleem uit, en tussen ons (sy met die Shorter Oxford op
haar skoot, ek met Oxford se Suid-Afrikaanse weergawe op myne) soek ons deur
al die moontlike klankverskuiwings. Onseker van die uitspraak word die
soektog baie wydlopig, maar dit lewer niks op nie. Dis ons eerste
(telefoniese) ontmoeting, en buiten die vriendskap met Jon het ons niks
gemeen nie, maar met die soektog na “traif” se Afrikaanse konneksies, vind
ons taalgewys baie om oor te gesels. Maar toe Elizabeth groet, is ek nog in
die donker. Waaraan sou die woord my so sterk herinner?

Donderdagaand skakel my vriend Pieter de Wet. Oudsendeling, is hy altyd vol
stories, en toe hy vra, Cecile, het jy tyd?, skud ek my luistervere reg. Op
’n kol raak hy ’n staaltjie oor ’n Joodse egpaar kwyt, en ek spits my ore.
Pieter, sê ek. Ken jy “traif”? Dis die Jiddisje woord vir nie-kosjer kos,
maar dit herinner my aan varkkos . . .

Swynedraf, sê Pieter. Draf is varkkos.

En daar staan dit toe in ál die woordeboeke, insluitend die Oxford Concise.
Draff, staan daar. Dregs, lees; refuse. En die oorsprong van die woord:

Kom uit Middel-Engels, miskien uit Oud-Engels dræf van Middel-Laag-Duits en
Middel-Nederlands, draf; en Oud-Hoog-Duits trab en Oud-Nederlands draf.
Varkkos. En nou, in Jiddisj, nie-kosjer kos. Natuurlik. Want oneetbaar, soos
varkvleis.

Omdat Pieter, kerkman, my die antwoord gegee het, het ek gehoop om draf in
Lukas 15 te vind in die verhaal van die verlore seun. Maar in al my
weergawes – Engels, Nederlands, Afrikaans, tot die 1933-vertaling – was dit
gewoon peule wat vir die varke gevoer was. Daar was geen swynedraf nie . . .

Dis maar ’n klein ding, maar dié soeke na die Afrikaanse weergawe van
“traif” het my gees verruim.

•

==============================END===================================

 * Please submit postings to lowlands-l at listserv.linguistlist.org.

 * Postings will be displayed unedited in digest form.

 * Please display only the relevant parts of quotes in your replies.

 * Commands for automated functions (including "signoff lowlands-l")

   are to be sent to listserv at listserv.linguistlist.org or at

   http://linguistlist.org/subscribing/sub-lowlands-l.html.

*********************************************************************
-------------- next part --------------
An HTML attachment was scrubbed...
URL: <http://listserv.linguistlist.org/pipermail/lowlands-l/attachments/20090424/5d52a51a/attachment.htm>


More information about the LOWLANDS-L mailing list